Friday, February 4, 2011

Die eerste week van klas

En so het ek my eerste week van klas vir die nuwe jaar gehad!  Saam met hierdie gebeurtenis het die Kaap ook 'n hittegolf gehad.  Die idioom wat hulle in die Kaap gebruik is dat die kraaie behoorlik gegaap het.  Maar ek gee nie regtig om oor die kraaie nie, ek het lanklaas in my lewe so baie gesweet!  Gelukkig het dit darem gisteraand lekker gereen, so dit is alweer leefbaar.

Die eerste week was maar baie oninteressant, so ek het besluit om julle bietjie te vertel van my nuwe deeltydse werk.  Ek het so 2 weke terug weer besluit om maar vir my deeltydse waiter werkie te kry.  Dit is al wat my nie totaal en al laat verval in slegheid nie.  Ek het presies 3 klasse per dag!!!  Toe blaai ek so bietjie rond in ons plaaslike koerantjie(Die Eikestad) en sien dat Rust & Vrede waiters soek.  Yola, as jy en Tinus nou weer bietjie Kaap toe kom dan moet ons daar gaan wynproe.  Ilze, ons sal vir jou en Andre net moet vat.  Evette, ek weet regtig waar nie wanneer ek jou weer hier gaan sien nie, maar as jy kom moet ons sommer gaan middagete eet.

Die wynlandgoed word besit deur Jean Engelbrecht, goeie persoonlike vriend van Ernie Els - Evette ongelukkig is hy nou al getroud anders sou ek ietsie daar probeer het.  Hulle wyne is baie eksklusief en die buiteland sien die meeste van dit.  Die plaas is bietjie oor die 300 jaar oud, so die geboue en gevestigde eikebome is iets om te aanskou!  Maar ek werk by die restaurant.  Dit het laasjaar die Restaurant van die jaar gewen.  Vir die van julle klomp wat so elke nou en dan dalk in 'n winkel rondloop, blaai bietjie deur Eat Out 2011 en dan sal julle sien.
Ons is 'n lekker klomp meisies wat daar werk - letterlik van regoor die wereld(Kanadees en Belgiese meisies).  En verder is daar darem ook so bietjie manne wat die wyn moet skink - hulle moet goeie maniere he anders kan hulle nie daar werk nie.

Hier is sommer so paar foto'tjies wat ek van Rust & Vrede se website afgetrek het.  Gaan kyk self daar as julle wil sien  www.rustenvrede.com

Hierdie is die stoep vir drankies voor aandete.

Die stoep is aan jou linkerhand en as jy regs omloop dan kom jy by die ingang van die restaurant.

Hier is sommer hoe die restaurant lyk as die tafels nou als mooi gedek is.  Daar is 'n orgidiee op elke tafel!

Net nog 'n oorsig van die restaurant.

Ek hoop om gou weer van iemand anders te lees!

Enige naweek planne?  Vat die kamera saam!

Ciao, Elisca  xxx

No comments:

Post a Comment