Wednesday, August 24, 2011

Dis LENTE!!!

Goeiemiddag dames!

Ek wil uit my vel uitspring - die lange winter is verby en die wingerde en akkerbome begin bot.  Selfs die menigte vrugtebome om Stellenbosch het pienk of wit blommetjies!  As 'n uit-en-uit somer mens is ek baie verheug hieroor!  Kan nie wag vir die eerste keer wat dit warm genoeg gaan wees om 'n tan in te pas nie...

Baie dankie Yola vir die dinee foto's, dit is baie lekker om dit te sien.  Wens so ek was daar!  Yola, hoe lanklaas het jy van Evette of Ilze gehoor?  Werk hulle internet nog?  Ek het net na jou post oor die dinee vir hulle gemail en gevra dat hulle ook ietsie moet opsit - dit was mos nie net jy by die dinee nie???  Maar, soos jy self kan sien, is daar nog niks!  Of dink jy dalk hulle het hulle kameras vergeet???

Yola, die make-over van julle slaapkamer het my ook nou sommer aan die dink gesit.  Ek is nou opsoek na 'n outydse katel - een van daardie ou beddens.  Die enigste probleem met dit is natuurlik altyd die prys.  Maar ek sal jou op hoogte hou van die vordering.  Ons gaan ook nou bietjie renovate en heel eerste op die lys is die badkamer!  Ek skraap nog moed bymekaar want die swamme wat uitgewis moet word, maak my sommer moeg voor ek begin!

Evette en Ilze, net vir ingeval julle nie die sarkamse in die boonste paragraaf gevang het nie, sit ek gou weer die hele doel van hierdie blog uiteen.  Dit is net sodat ons in kontak met mekaar kan bly en sommer kan sien hoe dit gaan met mekaar en wat alles aangaan in hulle lewens.  Dit vat nie ure om ietsie te post nie en dit word werklik hartlik waardeer.  Ek weet min wat daar aangaan - as dit nie vir Yola was nie sou ek niks geweet het nie!  Werk asseblief bietjie saam!  Dink terug aan die koshuis dae - hierdie is soos daardie eerste koppie koffie van die eerste dag van bloktyd as ons almal mooi weet dat ons eintlik nou lekker besig is om te procrastinate.  Deel bietjie wat aangaan in julle weke - die lekker goed en die vervelige goed.  Dis 'n maklike manier om in kontak te bly...

Aangesien dit opgehou reën het in die Kaap en ek 'n fiets gekry het vir my verjaarsdag - die winter het gemaak dat ek maar min tyd in die saal deurgebring het... - het ek en Carools besluit om sondag na die plaaslike mark toe te ry.  Gelukkig is dit nie ver nie, net so 5km.  Daar gaan ons lekker middagete kry - verskeie plaaslike kase, vars vrugte en nog beter -vars gebakte brood!!!  Dit sal natuurlik alles afgesluk word met 'n heerlike bottels Sauvignon Blanc... mmmm!  Ek sit maandag vir julle foto's op.

Elisca

No comments:

Post a Comment